‘Die wetenskap soek nie die vingerafdrukke van God nie’

Standard

2009-10-10 16:11

Vroeër vanjaar skryf prof. George Claassen in Rapport hy is geensins skaam om ’n ateïs genoem te word nie, maar hy’s g’n militant.
Vanoggend, hier in die joernalistiekdepartement se Eduardiaanse gebou in Stellenbosch, sê Claassen in sy sagte, ordentlike stem: hy wil nie meer ’n ateïs genoem word nie.
“Moenie dit aan die groot klok hang nie. Noem my eerder ’n sekulêre humanis.”
Pas weer, nét toe die debat oor sy veldtog teen godsdiens in skole (“ons woon nie meer in Nazi-Duitsland nie”) behoorlik begin knetter, toe onttrek hy hom.
Retireer is die beste geweer as dinge té warm raak? vra ek die skraal man met die ronderaambril.
“Dis weens persoonlike beledigings. Daar was geweldige aanvalle op my.”
Toe los hy dit vir Hans Pietersen en die ander veldtogvoerders om die kastaiings uit die vuur te krap?
“Hans-hulle het mý genader om die veldtog te begin. Maar terugskouend was dit ’n fout om betrokke te raak – ek wil nie alles wat ek doen hierdeur in diskrediet bring nie.”
Daar’s moedswilliges wat reken hy doen dit in elk geval?…
Claassen, buitengewone professor in joernalistiek, koerant-ombudsman, wetenskapskrywer, “stigterslid en eerste president” van die organisasie Skepties Suid-Afrika (SSA) asook president van die Suid-Afrikaanse vereniging van wetenskapjoernaliste, word gereeld beskuldig van onnodige venyn teenoor godsdiens, dat hy Christene in sy koerantrubrieke as belaglik en ondenkend afmaak.
Jare lank al waai die hare.
Was omstredenheid ’n primaat, dan’s George Claassen ’n berg-gorilla.
So hoe kon dié skeptikus dan só maklik sy SSA-stryd teen godsdiens in skole gewonne gee – not with a bang, but with a whimper?
“Eintlik het ek gehoop dinge sou verander, maar ek het nou weer die dure les geleer: my mede-Afrikaners wil nie debatteer nie.”
Los die Boerevolk uit, is hy gedreig. En: hy gaan “gemoer” word as hy sy voete in Gauteng sit. Solidariteit se skakelbeampte, Jaco Kleynhans, laat weet hy gaan hom en sy ou vereniginkie regsien.
“Wie gee hom die reg om my te hierjy? Ek het hom menéér Kleynhans genoem,” sê hy effe selfvoldaan. Hý “geagte meneer” almal terug wat hom so aanval in e-posse!
En hy kry baie sulkes.
Daar’s hope ondersteuning vir hul veldtog, sê hy en rits ’n lys bekende doktore en professore af. Boonop is SSA se e-pos “tjok-enblok vol” aansoeke om lidmaatskap.
Later, op navraag, laat weet hy SSA se ledetal is tans 200.
Dan swaai hy die gesprek om. Vertel hoe beroerd Suid-Afrika gevaar het in ’n internasionale opname in die Darwin Now 200-herdenkingsjaar. “Net 12% Suid-Afrikaners het gesê hulle beskou evolusie as ’n geldige wetenskapsteorie.”
Hy skud sy kop in volslae verbystering. “Dit wys hoe verskriklik oningelig Suid-Afrikaners is.”
Dis hoekom hy die veldtog begin het: godsdiens maak inbreuk op kinders se klastyd, indoktrineer hulle, verhinder onafhanklike denke.
Sy oudste broer het hom intussen daaraan herinner: hul pa het destyds as skoolhoof óók in die weeklikse saalbyeenkoms die Bybel gelees.
“Maar dit was vir tien minute, dan’s dit verby.”
Daarmee het hy nie ’n probleem nie, sê hy. “Die nasionale opvoedingswet stel goeie riglyne, hulle moet net nagekom word.”
Onderwysers wat sonder enige teologie-opleiding Bybelprekies gee in klastyd (“daar’s heelwat sulke klagtes”) moet egter verkla en teen opgetree word.
“Prediker maak die punt: daar’s ’n tyd en plek vir alles.”
Haal dié Dawkins-dissipel nou aan uit die Bybel?
Hy lag liggies. “Ek ken die Bybel goed. My ou Bybel is orals onderstreep.”
Daar’s bewerings dat die prof dieselfde in sý lesings doen. Dat hy ’n boelie is wat g’n teenstand duld nie, wat ateïsme in sy studente se kele afdruk. Een oud-student vertel hy’t hul heel eerste lesing afgeskop met die woorde: daar is nie ’n god nie.
“Wie’t dit gesê? Ek ontken dit ten sterkste. Ek word jaarliks geëvalueer deur my studente – waar kom dit nou vandaan?
“Op die eerste dag sê ek altyd: ‘hierdie klas gaan jou blootstel aan die grense wat wetenskap verskuif, dit gaan moontlik jou vaste sekerhede aantas.’
“En dan voeg ek by: ‘dié klas het niks te doen met jou godsdiensbenadering nie. Die wetenskap het niks oor God te sê nie.’ Dis my punt,” sê hy gebelgd.
Kennisse en kollegas beskryf Claassen as die besadigste, rustigste man. Maar noem net “geloof” en “evolusie”, hoor jy, dan verander Dr Jekyll in Mr Hyde.
Hoe kan mense hom daarvan beskuldig, kla hy. “Ek het geensins ’n aversie teen godsdienstiges nie.”
En hoe kán mense beweer hy’s nie ’n wetenskaplike nie?
“Ek is ’n sosiaal-wetenskaplike met meer as 20 portuur-geëvalueerde artikels in portuur-geevalueerde internasionale tydskrifte,” struikel hy byna oor die woorde, haastig om sy punt te stel.
Later: Hy wil net beklemtoon, hy is die énigste plaaslike joernalis wat ’n onderhoud gevoer het met die twee menslike-genoom-leiers, Francis Collins en Craig Venter, “wat weerskante van Bill Clinton gestaan het met die bekendstelling van die menslike-genoom-kartering in 2000?… My Collins-onderhoud is in By se bedkassieboek opgeneem.”
Met sy wetenskaprubriek (deesdae Kwakoskoop in By) is Claassen sedert 2001 Die Burger se gedrewe “onsinverklikker” van pseudo-wetenskap en “bedrieërs” soos Marietta Theunissen (dié aanbieder van die TV-program Die ander kant) kan hom maar van laster aankla, nooi hy uit.
Die persoonlike aanvalle op hom het in 2006 begin, met sy kritiese resensie van Leon Rousseau se boek Die groot avontuur, vertel hy.
Al wat hy gedoen het, was om Rousseau (“?’n leek wat nie sy huiswerk behoorlik gedoen het nie”) se “onsinnighede” uit te wys.
“Ek het nie oor Rousseau iets gesê nie, net oor sy boek,” sê hy weer, ’n pilaar van redelikheid.
In sy resensie het hy ook verwys na Gideon Joubert se Die groot gedagte as ’n “pseudo-wetenskaplike prul”.
“Toe word ek uitgeskel as ’n militante ateïs. Hoe kon hulle? Hulle ken my nie.”
Die herrie oor dié resensie het vanjaar weer vlamgevat, en daarmee saam die beskuldigings dat hy op ’n missie is om Afrikaanse mense te bekeer vir
ateïsme.
Hy lag. “Kom ek vertel jou iets persoonliks. My pa is amper 93. ’n Oorwoë Christen. My ma ook, sy’s 90. Ons het nog nooit vasgesit oor godsdiens nie. Hulle’s op hul laaste bene, maar ek probeer hulle nie anders oortuig nie.”
Om die Claassens se etenstafel, vertel hy vol geesdrif, is daar kleintyd oor Darwin en die wetenskap gesels. Oor die kennis wat dit bring, maar ook oor foute wat gemaak is, steeds gemaak word. En dis die krág van die wetenskap, beklemtoon hy: die wetenskap werk met onsekerhede, en erken dit.
Dan vat hy my op ’n wye toer van Die Groot Gedagte, Galileo, regdeur tot die Hubble-teleskoop. Begeesterd soos ’n varsbekeerde gelowige.
“Dis my probleem met godsdienstiges wat sê ek verkleineer hulle. Dis húlle wat gewoonlik dink hulle’s onaantasbaar, dat hul geloof nie hersien kan word nie.
“Sodra ek oor evolusie skryf, dan’s ék die ‘bleddie fool’, want ‘evolusie is nie ’n feit nie, dis ’n teorie’.
“Ek raak geïrriteerd as mense soveel selfgekose onkunde openbaar!”
En naderhand skree almal al hoe harder op mekaar?
Hy knik instemmend. “Inderdaad.”
Daar’s g’n middeweg tussen die militante fundamentaliste en die militante ateïste nie?
Maar dis hý, roep hy uit hier in die kantoortjie.
’n Vriend noem hom die Richard Dawkins van Suid-Afrika.
Dus: soos Dawkins die rottweiler van Darwin genoem word, is Claassen seker Dawkins se chihuahua?
Hy lag. En jy weet: agter daai lag is daar nie net ’n byt nie, daar’s ’n giga-byt.
Glo George Claassen in God?
“Nee, ek is wetenskap-gedrewe. Die wetenskap soek bewyse, spreek hom nie uit oor God nie. Jy kan dit as opskrif vir dié onderhoud gebruik: die wetenskap soek nie die vingerafdrukke van God nie.
“Ek volg die Carl Sagan-benadering, ek hou my opsies oop. Ek sê nie daar is nié ’n God nie, want dáárvoor het ek ook nie bewyse nie.”
Wat het dié oud-diaken só ontgogel van Christenskap?
“In my middel-dertigs het ek stelselmatig besef: daai wêreld werk nie meer vir my nie. Hoe meer ek lees, hoe meer vrae was daar.”
Sy kinders is Sondagskool toe. Hy’t hulle “vrye keuse” gegee. Die jongste, Craig, het onlangs opgewonde laat weet hy’t Dawkins se nuutste boek raakgeloop, vertel sy pa trots.
Hy sit daar en jy sien dieselfde sagte oë, dieselfde stille gedrewenheid as sy oud-Springbokkaptein-broer, Wynand.
Maar vir Darwin, vermoed jy, sou George Claassen bereid wees om van die pen ’n swaard te maak, van sy woorde die plofstof aan sy lyf?…

Advertisements

4 thoughts on “‘Die wetenskap soek nie die vingerafdrukke van God nie’

  1. Horrific example of a good journalist, isn’t it? I wonder where Retief got her qualification in communication and journalism? I heard that Izak de Villiers, former editor of Rapport appointed her. Old Izak had an eye for young women; he even married one after he dumped his first wife.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s