Waarom is Afrikaners so gatvas en verbete?

Standard

Waarom is Afrikaners so gatvas en verbete?

2009-10-17 03:08

Max du Preez

Hoekom is so baie Afrikaners so onverdraagsaam, so allergies vir nuwe idees en vir verandering? So gatvas?

Die antwoord moet sekerlik by die geskiedenis lê – die rowwe pioniersdae van die 18de eeu; die Groot Trek en vestiging van die Boere-republieke in die 19de eeu; die kultuur van sterk leiers en getroue volgelinge; die dogmatiese Calvinisme wat sedert die vestiging van die Duitse, Hollandse en Franse setlaars 350 jaar gelede soos ’n goue draad deur die geskiedenis loop en steeds sentraal tot die Afrikanerkultuur is; die jare van laer trek omdat die res van die nasie en die wêreld die Afrikaner se politieke lewenswyse verwerplik gevind het.

Ek sien ’n nuwe opwelling in hierdie onverdraagsaamheid – ’n nuwe vasskop in die dogmatiese loopgrawe. Ek vermoed dit is omdat Afrikaanse mense al weer baie onrustig en onseker voel, waarskynlik weens ’n sterk gevoel van bedreiging.

Daar is ’n amper maniese vrees vir die onbekende, ’n diepe versugting dat hul lewens moet ophou verander.

Ons moet dit probeer verstaan, maar ons moenie daarmee vrede maak nie. Dit is myns insiens in niemand se belang dat Afrikaners hulself weer uit die nasie defini­eer en gif spoeg op almal wat krities na hulle kyk nie.

Die laaste ding wat Afrikaners nou moet doen, is om na ’n volkstaat van die gemoed te onttrek.

Die Afrikaanse media het ’n belangrike rol om te speel om die ruimte vir diskoers oop en vry te hou en om die Afrikaanse gemeenskap in kontak met die res van die land te hou.

Want die eerste manifestasie van die nuwe onverdraagsaamheid is juis dat andersdenkendes weer doodgeskreeu en uitgevloek word.

Daar is twee onlangse voorbeelde van belangrike, aktuele debatte wat toe nie debatte was nie, maar vloeksessies: godsdiensonderrig op skool en Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch en ander universiteite.

Prof. George Claassen van Skepties Suid-Afrika is ’n ernstige intellektueel en ’n gerekende akademikus. Hy is nie sommer ’n hierjy-skollie wat aandag soek nie. Hy is boonop ’n streng etiese mens. Hy het ons almal ’n guns gedoen deur die vraag hard en duidelik te vra: Is dit grondwetlik, is dit gewens dat staatskole die aard van ’n spesifieke godsdiens aanneem? Ons is immers ’n sekulêre staat en ons Grondwet is baie duidelik daaroor dat ons algehele godsdiensvryheid het.

Arme George en sy ganse familie en voorgeslagte is binne twee weke só uitgeskel en inderdaad gedreig – en dit in die naam van Jesus Christus, die Seun van die God van Liefde – dat hy in sy dop gekruip en sy veldtog laat vaar het. Kwalik die gedrag van ’n fanatiese ateïs wat oorlog teen die Christendom verklaar het.

Dié wat wel argumente aangebied het, het meestal gesê die meeste mense in Suid-Afrika is Christene, daarom moet staatskole Christelike skole wees.

Ek vermoed dieselfde mense is voor in die koor wanneer daar om minderheidsregte gepleit word en swart Suid-Afrikaners daaraan herinner word dat demokrasie nie net gaan oor wie meer as die helfte van die steun het nie.

Baie ander het weer gesê staatskole moet hul Christelike karakter behou, want leerlinge wat nie Christene is nie, mag mos maar die godsdiensonderrig misloop. My Afrikaanse Moslem-buurman het juis verlede week vir my vertel hoe hy sy hele skoolloopbaan (by ’n Christelike staatskool) lank gemaak het of hy ’n Christen was, net om nie as heiden of die Antichris uitgesonder te word nie. Toe sy pa uitvind hy het saam met die Christene gebid en gesing, het hy hom ’n helse loesing gegee.

Maar meestal het mense vir George gesê hy is ’n vieslike ongedierte en God sal hom straf.

Toe ek op skool was, het onderwysers my geleer dat Afrikaners die uitverkore volk is wat deur God na Donker Afrika gestuur is om die barbare te tem. Apartheid kom uit die Bybel, het hulle gesê, nes die meeste dominees van daardie dae. Die Rooms-Katolieke was nie Christene nie, die Jode het Liewe Jesus doodgemaak en die Moslems was die Antichris.

Die Apostolies en ander hêppie klêppies was laeklas-Afrikaners en jy moet eintlik jou hond op die Sewendedagadventiste sit as hulle by jou kom aanklop.

Gelukkig het my ouers dié soort twak uitdruklik verwerp en ’n verdraagsame, liefdevolle weergawe van Christenwees aan hul kinders oorgedra.

So watter weergawe van die Christelike geloof wil jy hê die juffrou moet jou bloedjie mee beïnvloed, liewe beswaarde leser?
Sal jy kwaad wees as sy sê Jesus wou hê mense moet eers gedoop word as hulle volwasse is en self ’n keuse kan maak?

Of as sy sê ’n mens moenie die Bybel as ’n historiese dokument sien nie en dat alles in die Bybel nie letterlik opgeneem moet word nie? Of dat die aarde volgens die Bybel presies 6?000 jaar oud is en inderdaad in sewe dae deur God geskape is? Dat homoseksualiteit ’n aartssonde is? Dat jou kind se Moslem- of Hindoe-maatjie die vyand is wat vir ewig in die hel gaan brand?

My kind se spiritualiteit is primêr my verantwoordelikheid, minstens tot in haar tienderjare. Dit is my taak om haar gebalanseerd groot te maak, ’n sin van etiese waardes, reg en regverdigheid te gee en van genoeg insigte en alternatiewe in te lig sodat sy ingeligte, verantwoordelike keuses vir haarself kan maak as die tyd vir haar ryp is.

Geen onderwyser durf daarmee inmeng nie. (Nou gaan ek ook seker geskel en gedreig word. Die dierbare broers en susters in Christus gaan hul duime weer blink SMS met beledigings en verkleinerings.)

Hierdie argumente is heeltemal deur die onverdraagsames, wat hulself Christene noem, gestoomroller. Ek vermoed dit gaan vir baie nie eens soveel oor hul Christenskap nie, maar oor ’n intense weersin daarin dat enigiemand verder torring met hoe hulle wil lewe.

Want kom ons wees maar eerlik: Vir Afrikaners (dalk is dit universeel so) is die kerk baie meer ’n kulturele en gemeenskapsinstelling as ’n spirituele een.

Miskien is dit iets wat George Claassen en Skepties Suid-Afrika ook in gedagte moet hou: Of mense se geloof nou irrasioneel
of onlogies is of nie, religie speel ’n belangrike rol in groepe se gemeenskapslewe.

Die taaldebat, veral sover dit Stellenbosch aangaan, is ’n ander debat wat toe nooit juis ’n debat geword het nie, maar eerder ’n moddergooiery en ’n stel van verspot-simplistiese eise.

Soos: As die Engelse hul eie universiteite kan hê, hoekom nie die Afrikaners nie? En: As jy in Duitsland by ’n universiteit wil gaan studeer of klasgee, moet jy eers leer Duits praat, so hoekom eis ons nie dat studente en lektore by Stellenbosch eers Afrikaans magtig is nie? En enigiemand wat die absurde logika daarvan uitwys, is ’n verloopte Afrikaner en ’n ANC-gatkruiper.

Selfs die doktore en professore wat taalbul-hoede dra, is baie traag om in debat te tree oor kwessies soos die onhoudbaarheid dat Stellenbosch voorgraads oorweldigend wit en bruin gaan wees met ’n amper totale uitsluiting van swart as net Afrikaans voorgraads as onderrigtaal gebruik word.

Soos die absurditeit om briljante internasionale akademici uit Stellenbosch te hou omdat hulle nie Afrikaans kan praat nie – die voorbeeld van Stephen Hawking is onlangs genoem.

Ek weet self nie wat die oplossing is nie. Ek sou graag wou sien dat Afrikaans as akademiese taal voortleef, maar ek weet ook dit is ongesond en polities onhaalbaar om swart studente weens taal uit te sluit. Die debat is só onverkwiklik dat ek ná al die jare steeds nie vir myself kan besluit watter beleid ek moet steun nie.

Ja, bring maar die skeltaal. Dié van ons wat glo in oop gesprek en verdraagsaamheid moet maar die beledigings soos water oor ’n eend se rug laat afvloei.

Advertisements

15 thoughts on “Waarom is Afrikaners so gatvas en verbete?

  1. Baie goeie rubriek van Max du Preez.

    “So watter weergawe van die Christelike geloof wil jy hê die juffrou moet jou bloedjie mee beïnvloed, liewe beswaarde leser?”

    Nee wat , nie veel mense sal hierdie vraag kan beantwoord nie. N.a.v. die deursnee briewe in die media oor hierdie onderwerp, is dit skokkend duidelik dat die Afrikaner se redenasie vermoë maar swak is. Amper elke persoon se opinie is “reg” want dis soos hy/sy dink en “as jy nie met my saamstem nie sal jy in die hel brand. Maar ek sal vir jou bid.”

    Gebed: “Liewe Jesus, laat daar asseblief ‘n bliksem straal George/Max/McBrolloks/Savage tref en stuur hulle reguit na Satan se hel toe. In Jeusus se liefde. Amen.”

    Wat het van die Afrikaner geword. Hulle is pateties.

    Like

  2. Daar is nou ‘n beweging (Afrikaanse Vrydenkersbeweging (AVB)) wat bereid is om die skole wat gondsdiens tydens skool tyd aan te bied, te opponeer. Hulle webwerf is

    http://www.hulle.co.za

    Hulle neem oor waar Skepties Suid-Afrika (SSA) nie die guts gehad het om die veldtog wat hy begin het deur te voer nie.

    Like

  3. ‘n Mens sou wonder, is daar nie genoeg ander plekke waar die sogenaamde briljantes, wat nie afrikaans kan praat nie, heen kan gaan? Moet die afrikaanse briljantes nou verengels omdat daar nie meer vir hulle ‘n plek gaan wees, waar hulle moedertaal gebesig word?
    Mens kan net van een kant af kyk en tog moet mens nie nalaat om te besef, dat daar ‘n anderkant is.
    Terloops, God stuur jou nie hel toe nie. Jy kies die pad self waarheen jy bestem is.
    Christendom het goeie waardes en die gedagte is, dat dogma nie aan leerdes geleer moet word nie, maar wel die goeie waarders.

    Like

  4. Ja Hans, jy sien die kak begin spat waneer julle ouens met julle godsdiens alles wil verklaar. Dis gin wonder dat die slim Afrikaners fokkol met julle uit te waai wil he nie. Julle is ‘n groot verleentheid. Julle is die heeltyd besig om op julle kniee te val en ‘n spook te aanbid. Julle het nie die ballas om self julle daaglikse kak aan te pak nie. Julle wil nie verantwoordelikheid neem vir julle lewens nie. Julle blameer altyd die duiwel vir alles wat verkeerd gaan in julle wereld. Julle glo aan ‘n jesus spook wat glo liefde is, maar julle is van die mees intollerant mense in die land. Gedurende apartheid het julle dominies en julle kerke almal gepreek dat apartheid reg is, dat julle god se verkore volk is, en dat die heidine alles verdien wat julle aan hulle doen. Wat se julle vandag? En dan vra jy hoekom die meer verligte mense niks met julle uit te waai wil he nie? En dan dwing julle nog julle kak in ander mense se kinders se kele in af, en veg asof dit julle fokken reg is? Jissie, maar julle is heentemal faktap!

    Like

  5. Snaaks dat hierdie hele tameletjie begin het met ‘n idee en toe ‘n modder gooiery en nou draai dit weer net om.
    McBrolloks moet ons nie eerder debateer met die Afrikaners as om vir hulle te vertel hoe faktap hulle is nie. Het geskiedenis nie ons geleer dat jy nie mense met onderdruk nie – hulle gaan net in opstand kom en terug baklei. As jy vir my die heeltyd gaan vertel hoe faktap my idees oor die lewe is gaan ek mos defnitief jou teengaan, maar as jy vir my wys hoe ons kan hande vat en waar kan ons ‘n kompromie aangaan – dan kan ons mos saam werk. Net my opinie …

    Like

  6. Mc, as ander misbruik gemaak het van wat in die Bybel staan beteken dit nie dat die Bybel of Christenskap asook Christelike waardes foutief is nie.
    Niks is van kleins af op my afgedwing nie en my mense het maar die waardes waarin hulle glo aan my oorgedra. Jy gaan in elk geval jou “kak” aan jou kinders oordra of op hulle af dwing. Jy klink in elk geval nie asof jy baie verdraagsaam is teenoor Christenne en dit gaan maar oor “steek hand in eie boesem”. Nie alle kerke bedryf, of het poletiek bedryf en jy wil blykbaar almal onder een kam skeer. Geen kind word gedwing om godsdiensklasse by te woon, by skole, dus blyk jy die een wat faktap te wees. Ek “probeer” nie alles volgens godsdiens te verklaar nie ek verklaar vir seker godsdiens.

    Like

  7. Hans Matthysen skryf: “Terloops, God stuur jou nie hel toe nie. Jy kies die pad self waarheen jy bestem is.”

    Nee Hans. Daar is nie ‘n hel nie, net soos daar nie ‘n hemel is nie. Hierdie is stories wat deur mense 3000 jaar gelede uitgedink is omdat hulle bang vir die dood was, en julle glo hierdie fabels jou werklikwaar nog. Dink bietjie vir jouself man!

    En Hans skryf: “Christendom het goeie waardes en die gedagte is, dat dogma nie aan leerdes geleer moet word nie, maar wel die goeie waarders.”

    Dis waar jy dit mis het as jy dink mens moet gelowig wees om goeie waardes te besit. Talle wetenskaplike studies het gedui op die feit dat die ateïs se etiese waardes net so hoog (of laag) as die gelowige sn is. Steven Weinberg het gesê: “With or without religion, you would have good people doing good things and evil people doing evil things. But for good people to do evil things, that takes religion.” So pasop om goeie waardes vir die gelowige toe te eien.

    r0n1n sê: “maar as jy vir my wys hoe ons kan hande vat en waar kan ons ‘n kompromie aangaan – dan kan ons mos saam werk.”

    Dit is waar, maar al wat ons vra in staatskole is om ons kinders uit te los en nie hulle breine te besoedel met hierdie gelowige nonsens nie. En wat kry ons? Veroordelings dat ons oppad hel toe is omdat ons nie in God glo nie. Om te dink dat die arme kind toegelaat sal word om hom/haar van die bybelklas te verskoon sonder latere intimidasie, is wensdenkery. Lees maar wat op die web “Hulle” geuiter is deur die fundies. Daar is geen hande vat van hulle kant nie. So daarom beroep ons ons op die landswette om ons kinders te beskerm.

    Hans Matthysen sê: “Geen kind word gedwing om godsdiensklasse by te woon, by skole, dus blyk jy die een wat faktap te wees.”

    Nee Hans, McBrolloks is nie faktap nie; jy is die een wat jou feite verkeerd het. Ek was in die 50s en 60s op skool en is gedwing om die bybelklasse en bybellesings in die skoolsaal by te woon. My kinders was in die 80s en 90s op skool en toe was Christelike indoktrinasie net nog erger. En niks het verbeter nie! Hoekom dink jy het die ouers nou begin opstaan en gesê: “Dit is nou genoeg. Ons wil nie meer julle indoktrinasie op ons kinders toelaat nie en daarop beroep ons ons op die wet.”

    Like

  8. The statue-shitters have departed again, I see. Rational debate is to them as statues are to birds – it is a convenient platform on which to drop ill-digested ideas.

    Like

  9. Savage, net omdat jy onkundig is, wat hemel en hel betref, het nie te sê dat daar nie so iets is nie.
    Ek het nooit te kenne gegee, dat mens moet gelowig wees om goeie waardes te besit en ook nie, dat daar nie goeie mense is, wat nie Christenne is nie. Ek stem saam met wat Steven Weinberg gesê het.

    Hulle wat verwaand genoeg is om ander te oordeel, is nie ware Christenne nie omdat Jesus gekom het om te red en nie om te oordeel nie. Kinders soos volwassenis het nodig om te leer hoe om intimidasie te hanteer.

    Jy is nou in die jare 2000 en aan, waar dinge heelwat verander het, of het jy dit nog nie agter gekom nie. My vrou werk by ‘n skool en ek is dus op hoogte van wat daar aangaan.

    Ek verkondig die evangelie en is nie besig met indoktrinasie nie.

    Like

  10. Hans Matthysen skryf: “Savage, net omdat jy onkundig is, wat hemel en hel betref, het nie te sê dat daar nie so iets is nie.”

    Hans, sou jy sê daar is ‘n spaghetti monster wat tussen Mars en Jupiter rond vlieg en al die klein astoriedes wat hy teenkom opvreet? Natuurlik nie! Niemand het hom nog gesien nie so die moontlikheid dat hy bestaan is so klein dat mens dit sekerlik kan ignoreer. Net so het niemand in duisende jare al òf ‘n hemel òf ‘n hel gesien, òf iemand teëgekom wat dit uit eerste ondervinding beskryf het nie. So, ons kan met dieselfde sekerheid as die spaghetti monster sê dat hulle nie bestaan nie. Maar julle glo aan ‘n hemel en ‘n hel want ‘n boek wat duisende jare deur ‘n klomp bokwagters geskryf is, sê so. Die gebrek aan enige ondersoekende denkvermoë van gelowiges slaan my stom.

    Hans Matthysen skryf: “Kinders soos volwassenis het nodig om te leer hoe om intimidasie te hanteer.”

    Sjoe, jys ‘n gevaarlike man. So met ander woorde die verkragtings en mollestering vir dekades lank deur die Roomse Katolieke Kerk priesters in Ierland kan verskoon word; die kinders moet leer om intimidasie te hanteer.

    En dan sê jy dinge het nou in die jaar 2000 verander. Nou hoekom staan die ouers dan op teen hierdie Christelike geloofs indoktrinasie as dit nie meer bestaan nie? Jy moet ‘n bietjie jou oogklappe afhaal en om jou kyk wat gebeur.

    Deur die evangelie te verkondig aan kinders wat dit nie wil hoor nie maar te bang is om vir hulleself op te staan, is baie beslis nie net indoktrinasie nie maar ook intimidasie. Maar soos jy sê, kinders moet leer om intimidasie te hanteer. Shame on you! Jy is nie net ‘n muddled thinker nie maar miskien is jou dade soortgelyk aan diè van daardie gewetenlose priesters in Ierland.

    Like

  11. Savage, ek ken ten dele en het deel aan die hemelse roeping. Die hel is ook nie vir my vreemd nie omdat, sou ek die hemelse verloor, sou dit vir my hel wees. God is gees en die hemel, hel en Sy Koninkryk, is nie van hierdie wêreld nie. Dit is vir my duidelik, dat jou persepsie van wie en wat God is, jou mislei.
    Ek het my kinders geleer om nie deur ander geintimideer te word en te doen wat hulle weet is reg. Jy dwaal ook maar sleg van die punt af, met wat jy probeer te kenne gee (verkragtings ens.).
    Daar is enkele ouers wat lawaai maak en dit blyk of hulle nie hulle kinders kan leer om standpunt in te neem. Die skool vorseer niemand om godsdiensklasse by te woon nie. Ek lees die koerante en is op hoogte, dus besef ek, dat jy valse prentjies skilder om ander te mislei omdat jy nie in God glo nie.
    Hoe weet een, dat een die evangelie nie wil hoor as dit nog nie aan een verkondig is nie? Wat jy verkondig, wil ek graag hoor sodat ek dit kan opweeg teen die waarheid om dan te besef, jy is die verwarde denker.

    Like

  12. Hans Matthysen, jy vertel my van jou god en die hemel en die hel en al die mooi storietjies wat jy in jou boek van fables lees, maar ek vra weer, waar is enige bewyse? Jy het geen bewyse nie; ek herhaal, geen. So kom ons sorteer eers net hierdie een ou dingetjie uit. Ek beweer jy glo aan fables en jy glo dat die fables ‘n werlikheid is. So, bring jou bewyse. Wys vir my jou god en die hemel en die hel en dat slange kan praat en dat ‘n mens van ‘n maagd gebore kan word; kom gee vir my net een bewys. Maar jy kan nie, kan jy?

    So, dit is hoekom ons julle gelowiges nie ernstig opvat nie, en vir julle lag, en vir julle kinders jammer kry omdat julle hulle nie ‘n kans gee om kritiese denke te ontwikkel nie. Dit is ook hoekom ons julle wil stop (soos dit in Amerika suksesvol gedoen word) om ons kinders met julle kankervormende denke te besoedel. Julle is gevaarlike mense en moet so ver van kinders af weggehou word as moontlik.

    So, voordat jy met storietjies uit jou fabelsboek kom, sit eers ‘n paar bewyse op die tafel. Maar ek weet jy gaan maar net weer die onderwerp verander en sê jy sien dit in die natuur om jou (wat nonsense is want die wetenskap beskryf die natuur baie doeltreffend en het nie ‘n god-dit-it nodig nie), of jou god gee jou wat jy vra deur gebed (dit kan ons maklik wetenskaplik toets en jy weet jy gaan verloor), of, of, of, of. Kom maar, gee ‘n paar voorbeelde en ek kan jou waarborg ek sal dit wetenskaplik verkeerd bewys.

    Die tragiek met julle gelowiges is is dat julle sekerlik ‘n goeie brein elk gekry het, maar deur slaafs ‘n klomp stories na te gejaag het en blindelings die twak te glo, het daardie brein nie ontwikkel nie en totaal oneffektief geraak. My kinders het van kleins af geleer om krities te dink en weet jy wat, Hans? Ons het gereeld julle klomp breinloses bespreek en lekker met julle gespot en vir julle gelag. Dit was tragies om te sien dat kinders van 12 – 14 jaar al deur julle gesien het en geen, maar geen respek vir julle gehad het nie.

    Maar julle sal maar voort ploeter in die moras van nie-kritiese denke en salaam, salaam, skreeu vir julle denkbeeldige meester in julle denkbeeldige hemel.

    Een ding waar ek miskien met die wetenskaplikes sal verskil; die mens het nie ontwikkel van ‘n gemeenskaplike voorouer wat ons en die sjimpansee gelewer het nie. Ek dink ons was die oervader van die sjimpansee. Hy het uit ons ontwikkel want herder, hy is baie slimmer as die klomp dom gelowiges op hierdie aarde.

    Like

  13. Savage, ‘n slang het en kon nog nooit praat nie, want dit is sinnebeelde en jy kon dus nog nooit die boodskap daarin sien nie. Die hemel (natuurlik gesproke) volgens Gen. 1, is die atmosfeer om die aarde waarin ons woon. Ek verkeer in ‘n “hemelse” toestand omdat die saad (woord) wat by my gesaai is, is vrugbaar. Ek geniet vrede, blydskap, geregtigheid ens. in die Heilige Gees. Die “hemel” is dus nie ‘n plek nie en ook nie die “hel” nie.
    Hier het nou die dag ‘n e-pos aangekom van ‘n babadogtertjie wat swanger is. My siel, wat deur die Heilige Gees bevrug is, maak groot die Here (Christus, die krag en wysheid van God). In my begin, het niks ontstaan behalwe deur die “Woord” en in jou lewe, als wat vir jou bestaan, is ook deur die “Woord”. Volgens Joh. 1, is God die “Woord” en van die “Woord” kom “Wysheid”; en die “Woord” is “Krag”; en die “Woord” bring “Lig” (verstaanbaarheid). Die huis waarin jy woon, het nie ontstaan sonder die “Woord” nie. Ek het genoeg bewyse van God se bestaan in my lewe en as jy soek, sal jy vind. Wees maar net ‘n kind.
    Ek weet daar is baie gelowiges, wat God dien sonder verstand en daarom is hulle soos herders, wat in die nag (onkunde/duisternis), oor hulle skape waak.
    Respek is iets wat mens deur een se doen en late bewerkstellig. Mens het nie nodig om disrespek te toon, net omdat mens nie in dieselfde dinge glo nie.
    Ek moet ongelukkig met jou saam stem, dat baie sogenaamde gelowiges blyk breinloos te wees.

    Like

  14. Hans jy sê: “Ek geniet vrede, blydskap, geregtigheid ens. in die Heilige Gees.”

    Ek geniet dieselfde gevoelens maar net een verskil; ek glo nie aan ‘n god nie en het nie ‘n “woord” nodig om my te lei nie. Ek glo aan die natuur en die wetenskaplike bewyse (let wel, bewyse, en nie blindelingse navolging van wat ‘n oeroue volk opgedis het vir die werklikheid nie) van hoe atome, energie, kragte, ensovoorts, werk en hoe ons deur evolusie hier uitgekom het. Die wetenskaplike feite van evolusie is so oorweldigend en vertaanbaar dat dit my verstom dat daar mense is wat dit verwerp sonder om hulle eers te vergewis waaroor dit gaan.

    Ons verskil hemelsbreed in ons siening van wat die werklikheid is en nie een gaan die ander van die teendeel oortuig nie. So, ek wens jou sterkte toe in wat jy doen en laat ons dinge maar daar laat.

    Like

  15. Savage, ek glo in evolusie en die wetenskap. Wanneer my rugbyspan wen, het ek vrede en blydskap in rugby. Dit is nie dieselfde as vrede en blydskap in die Heilige Gees nie omdat dit ‘n ander vrede en blydskap is. Dankie vir die goeie wense en ek gun dieselfde vir jou.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s