Waarom is Afrikaners so gatvas en verbete?
2009-10-17 03:08
Max du Preez
Hoekom is so baie Afrikaners so onverdraagsaam, so allergies vir nuwe idees en vir verandering? So gatvas?
Die antwoord moet sekerlik by die geskiedenis lê – die rowwe pioniersdae van die 18de eeu; die Groot Trek en vestiging van die Boere-republieke in die 19de eeu; die kultuur van sterk leiers en getroue volgelinge; die dogmatiese Calvinisme wat sedert die vestiging van die Duitse, Hollandse en Franse setlaars 350 jaar gelede soos ’n goue draad deur die geskiedenis loop en steeds sentraal tot die Afrikanerkultuur is; die jare van laer trek omdat die res van die nasie en die wêreld die Afrikaner se politieke lewenswyse verwerplik gevind het.
Ek sien ’n nuwe opwelling in hierdie onverdraagsaamheid – ’n nuwe vasskop in die dogmatiese loopgrawe. Ek vermoed dit is omdat Afrikaanse mense al weer baie onrustig en onseker voel, waarskynlik weens ’n sterk gevoel van bedreiging.
Daar is ’n amper maniese vrees vir die onbekende, ’n diepe versugting dat hul lewens moet ophou verander.
Ons moet dit probeer verstaan, maar ons moenie daarmee vrede maak nie. Dit is myns insiens in niemand se belang dat Afrikaners hulself weer uit die nasie definieer en gif spoeg op almal wat krities na hulle kyk nie.
Die laaste ding wat Afrikaners nou moet doen, is om na ’n volkstaat van die gemoed te onttrek.
Die Afrikaanse media het ’n belangrike rol om te speel om die ruimte vir diskoers oop en vry te hou en om die Afrikaanse gemeenskap in kontak met die res van die land te hou.
Want die eerste manifestasie van die nuwe onverdraagsaamheid is juis dat andersdenkendes weer doodgeskreeu en uitgevloek word.
Daar is twee onlangse voorbeelde van belangrike, aktuele debatte wat toe nie debatte was nie, maar vloeksessies: godsdiensonderrig op skool en Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch en ander universiteite.
Prof. George Claassen van Skepties Suid-Afrika is ’n ernstige intellektueel en ’n gerekende akademikus. Hy is nie sommer ’n hierjy-skollie wat aandag soek nie. Hy is boonop ’n streng etiese mens. Hy het ons almal ’n guns gedoen deur die vraag hard en duidelik te vra: Is dit grondwetlik, is dit gewens dat staatskole die aard van ’n spesifieke godsdiens aanneem? Ons is immers ’n sekulêre staat en ons Grondwet is baie duidelik daaroor dat ons algehele godsdiensvryheid het.
Arme George en sy ganse familie en voorgeslagte is binne twee weke só uitgeskel en inderdaad gedreig – en dit in die naam van Jesus Christus, die Seun van die God van Liefde – dat hy in sy dop gekruip en sy veldtog laat vaar het. Kwalik die gedrag van ’n fanatiese ateïs wat oorlog teen die Christendom verklaar het.
Dié wat wel argumente aangebied het, het meestal gesê die meeste mense in Suid-Afrika is Christene, daarom moet staatskole Christelike skole wees.
Ek vermoed dieselfde mense is voor in die koor wanneer daar om minderheidsregte gepleit word en swart Suid-Afrikaners daaraan herinner word dat demokrasie nie net gaan oor wie meer as die helfte van die steun het nie.
Baie ander het weer gesê staatskole moet hul Christelike karakter behou, want leerlinge wat nie Christene is nie, mag mos maar die godsdiensonderrig misloop. My Afrikaanse Moslem-buurman het juis verlede week vir my vertel hoe hy sy hele skoolloopbaan (by ’n Christelike staatskool) lank gemaak het of hy ’n Christen was, net om nie as heiden of die Antichris uitgesonder te word nie. Toe sy pa uitvind hy het saam met die Christene gebid en gesing, het hy hom ’n helse loesing gegee.
Maar meestal het mense vir George gesê hy is ’n vieslike ongedierte en God sal hom straf.
Toe ek op skool was, het onderwysers my geleer dat Afrikaners die uitverkore volk is wat deur God na Donker Afrika gestuur is om die barbare te tem. Apartheid kom uit die Bybel, het hulle gesê, nes die meeste dominees van daardie dae. Die Rooms-Katolieke was nie Christene nie, die Jode het Liewe Jesus doodgemaak en die Moslems was die Antichris.
Die Apostolies en ander hêppie klêppies was laeklas-Afrikaners en jy moet eintlik jou hond op die Sewendedagadventiste sit as hulle by jou kom aanklop.
Gelukkig het my ouers dié soort twak uitdruklik verwerp en ’n verdraagsame, liefdevolle weergawe van Christenwees aan hul kinders oorgedra.
So watter weergawe van die Christelike geloof wil jy hê die juffrou moet jou bloedjie mee beïnvloed, liewe beswaarde leser?
Sal jy kwaad wees as sy sê Jesus wou hê mense moet eers gedoop word as hulle volwasse is en self ’n keuse kan maak?
Of as sy sê ’n mens moenie die Bybel as ’n historiese dokument sien nie en dat alles in die Bybel nie letterlik opgeneem moet word nie? Of dat die aarde volgens die Bybel presies 6?000 jaar oud is en inderdaad in sewe dae deur God geskape is? Dat homoseksualiteit ’n aartssonde is? Dat jou kind se Moslem- of Hindoe-maatjie die vyand is wat vir ewig in die hel gaan brand?
My kind se spiritualiteit is primêr my verantwoordelikheid, minstens tot in haar tienderjare. Dit is my taak om haar gebalanseerd groot te maak, ’n sin van etiese waardes, reg en regverdigheid te gee en van genoeg insigte en alternatiewe in te lig sodat sy ingeligte, verantwoordelike keuses vir haarself kan maak as die tyd vir haar ryp is.
Geen onderwyser durf daarmee inmeng nie. (Nou gaan ek ook seker geskel en gedreig word. Die dierbare broers en susters in Christus gaan hul duime weer blink SMS met beledigings en verkleinerings.)
Hierdie argumente is heeltemal deur die onverdraagsames, wat hulself Christene noem, gestoomroller. Ek vermoed dit gaan vir baie nie eens soveel oor hul Christenskap nie, maar oor ’n intense weersin daarin dat enigiemand verder torring met hoe hulle wil lewe.
Want kom ons wees maar eerlik: Vir Afrikaners (dalk is dit universeel so) is die kerk baie meer ’n kulturele en gemeenskapsinstelling as ’n spirituele een.
Miskien is dit iets wat George Claassen en Skepties Suid-Afrika ook in gedagte moet hou: Of mense se geloof nou irrasioneel
of onlogies is of nie, religie speel ’n belangrike rol in groepe se gemeenskapslewe.
Die taaldebat, veral sover dit Stellenbosch aangaan, is ’n ander debat wat toe nooit juis ’n debat geword het nie, maar eerder ’n moddergooiery en ’n stel van verspot-simplistiese eise.
Soos: As die Engelse hul eie universiteite kan hê, hoekom nie die Afrikaners nie? En: As jy in Duitsland by ’n universiteit wil gaan studeer of klasgee, moet jy eers leer Duits praat, so hoekom eis ons nie dat studente en lektore by Stellenbosch eers Afrikaans magtig is nie? En enigiemand wat die absurde logika daarvan uitwys, is ’n verloopte Afrikaner en ’n ANC-gatkruiper.
Selfs die doktore en professore wat taalbul-hoede dra, is baie traag om in debat te tree oor kwessies soos die onhoudbaarheid dat Stellenbosch voorgraads oorweldigend wit en bruin gaan wees met ’n amper totale uitsluiting van swart as net Afrikaans voorgraads as onderrigtaal gebruik word.
Soos die absurditeit om briljante internasionale akademici uit Stellenbosch te hou omdat hulle nie Afrikaans kan praat nie – die voorbeeld van Stephen Hawking is onlangs genoem.
Ek weet self nie wat die oplossing is nie. Ek sou graag wou sien dat Afrikaans as akademiese taal voortleef, maar ek weet ook dit is ongesond en polities onhaalbaar om swart studente weens taal uit te sluit. Die debat is só onverkwiklik dat ek ná al die jare steeds nie vir myself kan besluit watter beleid ek moet steun nie.
Ja, bring maar die skeltaal. Dié van ons wat glo in oop gesprek en verdraagsaamheid moet maar die beledigings soos water oor ’n eend se rug laat afvloei.